’n Singende Rus is die ‘vader’ van die BLOU BUL

Hulle sê die beste dinge in die lewe kom in pare. Soos sonskyn en Chevrolet. Of Klippies en Coke.

As jy noord van die Jukskei-rivier bly, kan ’n mens seker ook Loftus en die Blou Bulle by dié lysie voeg.

Maar dit was natuurlik nie altyd so nie.

Die manne daar in die Sunny­side-omgewing wat hul rugby kén, sê die Blou Bul-ding kom van die tyd toe die legendariese Louis Schmidt, pa van die ewe gevaarlike Uli, nog op flank vir die Bloues gesak het.

Louis, wat in die laat-1990’s oorlede is, staan in die Jakarandastad bekend as die “oorspronklike Blou Bul”. Die een wat geen onreg verduur nie en beslis nié van die vloer af eet nie.

Maar min rugbymense weet van die rol wat ’n Rus – wat boonop meer van opera as rugby gehou het! – gespeel het om die woedende, blasende Blou Bul te vestig as een van Pretoria en die rugbywêreld se bekendste handelsmerke.

Niemand is presies seker wie eerste na die Barbertonse Madeliefies as die Blou Bulle verwys het nie. Die naam is sedert die laat 1940’s reeds in omloop. Maar wat wel met redelike sekerheid gesê kan word, is dat Victor Ivanoff, spotprenttekenaar van die destydse noordelike middagblad Die Vaderland, die eerste was wat die spelers as Bulle geteken het.

Die heel eerste voorbeeld daarvan is ’n klein penskets wat Ivanoff gemaak het vir die voorblad van die koerant van Saterdag 8 Junie 1963, die dag waarop die destydse spanne Transvaal en Noord-Transvaal sou kragte meet.

Die teks verwys, ironies genoeg, na “die twee bulspanne van die noorde”. Daarby was ’n klein skets deur Ivanoff van die twee kapteins: Avril Malan met ’n oorontwikkelde ken en Schmidt, wie se welige snor soos die horings van ’n bul na vore gedraai is.

En só is die legende gebore.

Skaars ’n maand nadat die Schmidt-skets in Die Vaderland verskyn het, verfyn Ivanoff sy bul-idee vir die voorblad van die program van die wedstryd tussen Noord-Transvaal en die besoekende Australiërs op 24 Julie.

In dié prentjie trap ’n knorrige blou bul – wat verbasend baie lyk na die “bulle” wat steeds Saterdag ná Saterdag op Loftus se paviljoene sit – ’n kangaroe se stert vas. (Dit was toe nie so maklik nie; die wedstryd het gelykop geëindig!)

Ná dié afbeelding sou Loftus nooit weer dieselfde wees nie en die Bul-bynaam het “amptelik” geword.

Maar wie was die skepper van die oorspronklike Loftus-liefling?

Victor Ivanoff was ’n gebore Rus wat so lief was vir sy aangenome land en vir Afrikaans dat hy soms sy naam verafrikaans en sy spotprente geteken het as “I van Off”?

Hy was die seun van ’n Kosak-generaal, ’n Slawiese groep wat eeue al op die walle van die Donrivier in die suide van Rusland bly.

Die Kosakke was tradisioneel lojaal aan die Russiese tsaar en met die uitbreek van die revolusie in Oktober 1917 het sy pa by die wit-leër aangesluit om teen die Bolsjewiste te veg.

Toe die anti-kommunistiese troepe uiteindelik in 1920 uit Rusland gedryf is, het die familie na Joego-Slawië gevlug waar die jong Ivanoff vir ’n argitektuurgraad aan die universiteit van Zagreb ingeskryf het. Argitektuur het hom egter nie geval nie (en die familie se geld was boonop min) en daarom het Victor by die Don Kosakke-koor aangesluit en saam met hulle rondom die wêreld begin toer.

In 1936, kort voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, toer sy groep in Suid-Afrika. Die eindelose Suid-Afrikaanse vlaktes en die vryheid van die oop veld het Ivanoff so sterk aan die Russiese steppe herinner dat hy besluit het om agter te bly.

As ’n self-geleerde spotprent- tekenaar wie se styl baie beïnvloed is deur die Britse meester David Low begin hy werk soek by Engelse koerante in Johannesburg, maar raak uiteindelik geholpe by Die Vaderland.

Een van sy eerste opdragte was om ’n reeks karikature van parlementslede te doen.

Hy het later jare met groot smaak vertel hoe een van genl. Jan Smuts se kabinetslede, “oom” Piet Grobler, destyds minister van naturellesake, hom onder sy vlerk geneem het.

Grobler was ’n nefie van Paul Kruger en niemand in die parlement het dit gewaag om hom teen te gaan nie.

Grobler het die Rus met die gebrekkige Afrikaans langs hom in die Volksraad laat sit en al wat Ivanoff moes doen, was om vir “oom Piet” te sê wie hy wou teken. Grobler sou hulle dan met ’n “kom hier seun” nader wink en terwyl Grobler met hulle gesels, het Ivanoff verwoed geskets.

Een van sy “slagoffers” was die parlementslid Bruckner de Villiers, wat ’n baie prominente neus gehad het, so groot dat sy papier te klein was vir die neus om daarop te kan pas.

Die spotprent met die woorde “word vervolg” is nét so gepubliseer en het genoeg aandag getrek om Ivanoff as spotprenttekenaar te vestig.

In ag genome Ivanoff se agtergrond het hy natuurlik geen simpatie met die Sowjetunie gehad nie. Dit is ’n afsku wat hy met sy Afrikaner-base gedeel het. Josef Stalin was vir hom die beliggaming van alles wat met Sowjet-Rusland verkeerd is en hy het hom dikwels geteken as ’n uitgeslape, demoniese figuur wat die Geallieerdes ’n streep probeer trek, soms met Geallieerde leiers in sy sak.

Ivanoff het in later jare bereken dat hy Stalin ten minste 1 000 keer in sy 12 000 spotprente geteken het in vergelyking met Smuts, wat hy 700 keer geteken het, en dr. D. F. Malan, ’n skamele 300 keer.

Sy anti-Smuts-spotprente was so invloedryk dat die Verenigde Party Ivanoff ná die 1948-verkiesing geblameer het vir hul nederlaag.

Niemand kon egter die innemende Rus se liefde vir sy aangenome land, sy mense en die wye, oop Suid-Afrikaanse vlaktes in twyfel trek nie; ’n liefde wat net oortref is deur sy liefde vir sy eie Kosak-kultuur.

Mense wat hom geken het, beskryf hom graag as die “siel” van die plaaslike Russiese gemeenskap en onthou hom as voorsinger en -danser wat meer as 200 Russiese volksliedjies geken het.

“My pa was groter as die lewe self,” vertel sy dogter Kira.

“Hy het ’n vlymskerp sin vir humor gehad en ’n charisma wat die koppe laat draai het waar hy ook gegaan het.”

Sy sê hy het geglo dat Afrikaners en Russe baie gemeen het. Albei het hul vryheid hoog aangeslaan en was versot op perde en die wye vlaktes.

Ivanoff het graag vertel dat hulle as kinders “Boere en Engelse” gespeel het, net soos kinders elders “cowboys en kroeks” speel.

Hoewel hy gedurende sy lewe ten minste 12 000 spotprente geteken het, was sy ambisie altyd om as ernstige kunstenaar gereken te word.

In die 1950’s het hy sover gegaan as om in Europa te gaan kuns studeer en hy het ook les gehad by sy vriend Pierneef.

Daar was ook ander talente: Hy het ’n baie goeie stem gehad en nog ’n vriend, die opera-sanger Dawie Couzyn, sê hy was altyd spyt dat Ivanoff nie eerder opera sy lewe gemaak het nie.

Hy het van tyd tot tyd in professionele operaproduksies opgetree en was ’n stigterslid van die Nasionale Operavereniging van Suid-Afrika.

Die groot gemis was egter dat hy nooit weer sy geliefde Rusland gesien het nie.

As hy daarna gevra is, het hy altyd spottenderwys geantwoord: “Ek is ’n kort mannetjie en ek wil nie nóg ’n kop korter wees nie.”

Toe hy in 1990 oorlede is, was perestroika in volle gang.

Tien jaar later kon sy vrou, Eveline, wel Rusland besoek om gehoor te gee aan sy laaste wens: Hy wou hê sy as moes in die Don gestrooi word.

Johannesburg se Boere-Kosak was uiteindelik weer tuis.

Die artikel is oorspronklik geskryf deur Boris Gorelik. Hy skryf advertensiekopie in Moskou. In sy vrye tyd doen hy navorsing oor Russiese emigrasie na Suid-Afrika.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s